Feb 21, 2025 | Media Release

48ste SA Tweekamp Kampioenskappe kruip nader…

Een van die groot sportgebeurtenisse in Eden en Oudtshoorn is op ons horison en die reëlingskomitee onder voorsitterskap van Dave van der Walt is druk besig om alles in plek te kry. Vanjaar word die SA Kampioenskappe deur Eden Tweekamp aangebied onder die vaandel van die Weskaap Tweekamp Forum [Eden, WP, BOL]. Dit vind plaas op die De Jager Atletiekbaan en die NA Smit swembad. So ‘n groot byeenkoms kan egter nie sonder die plaaslike munisipaliteit aangebied word nie – en daar is die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit ‘n groot bron van ondersteuning! Ook moet die Oudtshoorn Sport Inisiatief [OSI] genoem word wat ongelooflike werk gedoen het om die NA Smit swembad op te knap.

Die byeenkoms vind op 21/22 Maart 2025 plaas met die amptelike opening Vrydag 21 Maart 16:00 op De Jager Atletiekbaan gevolg deur die Presidentsfunksie Vrydagmiddag 17:30 by Georgie Klubhuis, HS Oudtshoorn. Saterdagoggend voor hanekraai begin die baanitems met die eerste item reeds om 07:00 by De Jager Atletiekbaan. Daarna volg die swem by NA Smit Swembad – begin alreeds 10:00. Na ‘n besige dag volg die Gala-funksie [medaljeparade, prysuitdeling, braai & dans] om18:45 op Highgate Volstruisplaas.

Dit is die derde keer wat Oudtshoorn [2001, 2013, 2020] gasheer speel vir hierdie groot byeenkoms. Die 2020 kampioenskappe moes dae voor die byeenkoms afgestel word agv Covid 19 epidemie. 14 provinsies neem vanjaar deel en tussen 900 – 1000 atlete word verwag [2024 in Bloemfontein 965]

Sonder borge is so ‘n topvlak nasionale byeenkoms egter nie moontlik nie. Daarom is Eden Tweekamp besonder gelukkig om die Weskaap Departement van Kultuursake & Sport, SIMCASH, Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, WIMPY, Highgate Volstruisplaas as premium borge te kon kry. Maar die sekondêre borge soos Alert Patrol, Oudtshoorn SPAR, Camp Roadhouse, MG Ice, HS Oudtshoorn, Volcano Sport Wear, Kangogrotte, Oudtshoorn Besigheidskamer, Oudtshoorn & De Rust Toerisme, Oudtshoorn Inn, Eden Sport Academy, speel ‘n ewe groot rol! Jackhals Event Management doen die aktivering vir die byeenkoms. Oudtshoorn is ook besonder gelukkig om diensverskaffer van gehalte te hê wat die logistieke reëlings baie vergemaklik.

Dit gaan vanjaar ‘n kontantlose SA Kampioenskappe wees en toegangsbeheer gaan per armbandjies wees. Daar sal egter hulp by die toegangshekke wees om toeskouers by te staan indien hulle vashaak!

Eden Tweekamp vra die ondersteuning van die gemeenskap van Oudtshoorn om dit ‘n wonderlike ervaring vir al die besoekers oor die hele land te maak! Ons wil hulle graag terug hê as toeriste in die toekoms. Dis hierdie duisende besoekers wat daardie ekonomiese inspuiting van miljoene [geskatte R4,5m] vir Oudtshoorn bring……..