BESIGE 2026/27 SEISOEN WAG OP EDEN TWEEKAMP………

Die amptelike opening met die spanne van die 14 provinsies voor ‘n volgepakte pawiljoen by die De Jager Atletiekbaan.
n Besige seisoen lê vir Eden Tweekamp voor die in 2026 en 2027! SA Tweekamp het weer die SA Tweekamp Kampioenskappe vir 2027 aan Eden toegeken – die derde jaar in ‘n ry! Dit word dan ook weer op Oudtshoorn aangebied nie net omdat Oudtshoorn kan spog met die ideale sportfasiliteite vir tweekamp nie, maar ook die billike beskikbare akkommodasie, die aangename weersomstandighede, die puik toerisme-attraksies en natuurlik die vriendelike Klein Karoo-mense. Groot verbeterings is die afgelope tyd aan die sportfasiliteite aangebring – by die NA Smit swembad word ‘n nuwe pompstelsel na 30 jaar ingesit, die pawiljoen het ‘n dak gekry en die ablusie word opgeknap. Die De Jager atletiekbaan word ook tans oorgedoen. Voeg daarby die gerekende sport-administrateurs en beskikbare Event Management instansies – en dit vorm die wensresep vir hierdie asionale byeenkomste! Die datum vir SA2027 is 31 Mrt tot 3 April. 14 provinsies van oor die hele Suid-Afrika kom deelneem. By die SA2026 op Oudtshoorn in Maart vanjaar was daar meer as 900 atlete ingeskryf. Wat die geleentheid nog meer glans gaan gee is die feit dat dit die 50ste SA Kampioenskappe is wat aangebied gaan word!
Intussen gaan die normale plaaslike program van Eden Tweekamp aan en word daar benewens nog ‘n topvlak nasionale byeenkoms, die DCAS/GROTER OUDTSHOORN/ HIGHGATE interprovinsiale byeenkoms op 6 Februarie 2027 [waar nie minder nie as 7 provinsies deelneem], ook 2 Proewe-byeenkomste, 4 Ligabyeenkomste, die Wimpy Doubles-byeenkoms, 2 Ontwikkelingsklinieke en 1 Kapasiteitsbou-werkswinkel aangebied. Ook gaan neem die Highgate Eden Tweekampspanne [Meriete en Ontwikkeling] aan die einde van Oktober 2026 aan die OP Interprovinsiale byeenkoms in Gqeberha [PE] deel.
Gereken op R1200 per persoon/dag wat deur SA Toerisme as ‘n riglyn gebruik word vir spandering, word voorspel dat die HG Interprovinsiaal sowat R4m en die SA2027
R6m tot die ekonomie van Oudtshoorn bydra. Dit is dan ook hoofsaaklik die hotelle, gastehuise, restaurant, brandstofvulstasies, winkels en ander besighede wat die vrugte daarvan pluk. Dit is daarom dat dit so belangrik is dat Oudtshoorn se besighede inkoop in die projekte. Die Oudtshoorn Sport Inisiatief asook die Oudtshoorn Besigheidskamer is instansies vir die besighede om aan te behoort. Dit skep ook ‘n aansienlike klompie werksgeleenthede al is dit ook net tydelik! Primêre borge soos die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Highgate Volstruisplaas en die Weskaap Departement van Kultuursake & Sport asook die menigte sekondêre borge in Eden en Oudtshoorn maak hierdie topvlak byeenkomste moontlik.
Dan die media [gedrukte, radio & sosiaal] – sonder hulle ondersteuning kan hierdie topvlak byeenkomste nie tot hulle reg kom nie!
Aangeheg ‘n paar fotos van die suksesvolle SA Kampioenskappe wat in Maart 2026 in Oudtshoorn aangebied is asook die voorlopige datumlys vir 2026/27.
